Die duo Coffee Snobs reik ‘n nuwe debuutalbum uit

Musiek vir connoisseurs. Dis die musiek wat die musikale musiekpaartjie Vernette en Marius Wessels – oftewel Coffee Snobs – op hul debuutalbum Aroma (met die pragtreffer Eie land) geskep het.

Nou kry musiekliefhebbers wat gehaltemusiek waardeer, hul tweede album: Lig. “Ek voel ons het ons ware identiteit gevind en dit op hierdie album vasgevang. Oor die algemeen het die album ’n meer akoestiese en organiese aanslag as die eerste album. Dit wat jy op die album hoor, is ook wat jy gaan hoor as jy ons sien optree:. Dis wie ons is,” sê Vernette.

Die album bestaan uit sewe Afrikaanse en twee Engelse liedjies; almal oorspronklike nuutskeppings. Die titel van die album weerspieël die tema van lig wat deurlopend in die lirieke voorkom. Vernette sê sy het net een oggend wakker geword en geweet dat die titel Lig moet wees!

“Oor die algemeen is dit ’n baie positiewe album wat ’n boodskap van hoop en ’n toekoms verkondig! Jake Odendaal van Maven Productions het die produksie hanteer en ’n ongelooflike taak verrig! Die resultaat is betekenisvolle luistermusiek – wat ook jou voete ritmies laat saam wikkel.”

Vernette gesels oor die liedjies:

Noudat die lig op jou skyn: Dit is van toepassing op elkeen van ons. Ons almal het ’n storie, ’n lewensverhaal met goeie en slegte goed wat met jou gebeur het. Jou storie kan vir ander mense wat deur dieselfde, of ander uitdagings gaan, hoop gee en daarom moet mens dit deel wanneer die tyd reg is en jy so gelei word.
Gordonsbaai: Die naam sê als! As jy op ’n mooi dag (wanneer die wind nie te erg waai nie!) laatmiddag oor Gordonsbaai uitkyk en jy sien hoe die wolke oor die berge spoel en die son in die see val, is dit só mooi!
Kyk hoe reën dit buite: Daar is niks so romantiese soos wanneer dit saggies buite reën en jy en jou geliefde styf teen mekaar kan sit en vir die reën kyk.
Kyk op: Soms moet ’n mens opkyk, vasbyt en aanhou. Dis al wat jy kan doen totdat die wiel weer draai; en die wiel sál draai – al voel dit nie nou so nie.
Oorlog: Oorlog gaan oor ’n innerlike stryd tussen dit wat jy glo en dit wat jy sien en dan die besluit om aan te hou glo, vas te hou aan die Woord – al sien jy dit nog nie.
The Road: Hierdie liedjie is gebruik as die amptelike liedjie vir die 2017 Old Mutual Joberg2c- bergfietswedren. En dis baie gepas ook, want mens kan nie bekostig om op hierdie wedren die pad byster te raak nie.
Sing jou lied: Hierdie liedjie is met so tikkie rebellie in my geskryf. Dit is ’n proklamasie dat ek sal aanhou sing, of mense nou luister of nie, want ek het ’n boodskap om te verkondig deur musiek.
Winternagte: Spyt kom mos altyd te laat en dan wens jy jy kon die tyd terugdraai en die verkeerde goed wat jy gesê het terugvat…
Wildest Dreams: Ek glo in drome, ek glo dis deel van wie jy is en dat mens alles in die stryd moet werp om jou drome te verwesenlik!
Die duo het weer ontsettende sorg met die komplekse produksie getref om ‘n unieke klank te skep – in ‘n versnit van vele genres: ‘n deeglike sopie poprock en folk, ‘n teug country en ‘n spatsel jazz. Coffee Snobs se eiesoortige musiekstyl verryk liefhebbers van fynproekuns met organiese aardsheid en aromatiese swier.

Loer hier onder na een van hulle treffer liedjies:- Coffee Snobs – ‘Eie Land’

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.